Suid-Afrikaners kan aansoek doen vir 'n PayShap beursie (wallet) by 'n finansiële instansie. 'n ShapID word dan aan die beursie toegeken, wat meestal jou telefoonnommer sal wees.
SAKENUUS - Die Suid-Afrikaanse Reserwebank, in samewerking met vier groot plaaslike banke, het hierdie week 'n nuwe vinnige betalingsprogram, genaamd PayShap, van stapel gestuur.
PayShap is 'n stelsel waardeur Suid- Afrikaners geld onmiddellik van een elektroniese beursie na 'n ander kan oorplaas deur middel van hul telefoon.
Dis amper moeilik om te glo, maar volgens die SA Reserwebank, vind ongeveer 9 uit 10 finansiële transaksies in Suid-Afrika nog plaas deur middel van kontant.
Vele Suid-Afrikaners onttrek onmiddellik hul salaris of Sassa-toelaag in kontant en spandeer dan al hul geld deur middel van kontanttransaksies. PayShap sal hopelik hierdie tendens verander, soortgelyk aan die Pix-stelsel in Brasilië waar alreeds meer as 110 miljoen Brasiliërs Pix gebruik het om geld te betaal of te ontvang.
Hoe werk PayShap?
Suid-Afrikaners kan aansoek doen vir 'n PayShap beursie (wallet) by 'n finansiële instansie. 'n ShapID word dan aan die beursie toegeken, wat meestal jou telefoonnommer sal wees.
Jy kan nou geld oorplaas na 'n ander persoon/party se beursie deur slegs die ShapID of telefoonnommer te gebruik. Of 'n ander persoon/party kan 'n 'request-to-pay' na jou telefoon stuur waarop jy dit elektronies kan betaal.
Blitsig, blykbaar binne 10 sekondes, vind klaring van die geld plaas deur BankservAfrica, 'n interbank klaringshuis, en word die geld tussen banke oorgeplaas. Die transaksies sal steeds deur middel van 'n banktoepassing (Banking App) op jou telefoon gedoen word, maar die Reserwebank onderneem dat dit maklik, gebruikersvriendelik en veilig sal wees.
Die maksimum bedrag wat oorgeplaas kan word is blykbaar R3 000 en transaksies kan nie gekanselleer of omgekeer word nie.
Die uitrol van PayShap
PayShap is hierdie week reeds deur vier banke; ABSA, FNB, Nedbank en Standard Bank, bekendgestel. Die eerste fase sal slegs betalings van een telefoon na 'n ander toelaat.
Die tweede fase sal 'request-to-pay' transaksies moontlik maak. Met verloop van tyd sal 'n verdere ag banke by PayShap inskakel op pad na 'n kontantlose Suid-Afrika, volgens die Reserwebank.
Op hierdie stadium is daar nog geen aanduiding van wat 'n tipiese transaksie sal kos nie, maar beslis sal Suid-Afrikaners hierdie metode van betaling slegs gebruik indien dit bekostigbaar is.
Verder, miljoene Suid-Afrikaners wat nie kwalifiseer om 'n kredietkaart te besit nie, sal wel 'n PayShap-beursie kan oopmaak en sodoende deel vorm van 'n toenemende kontantlose samelewing.
Prof. Rossouw von Solms is 'n emeritus professor en lid van die Sentrum vir Navorsing in Inligting en Kubersekerheid aan die Nelson Mandela Universiteit.